Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

OOR DIE DIENSTE

OOR DIE KERKLIKE VERGADERINGS

OOR DIE LEER, SAKRAMENTE EN ANDER SEREMONIES

OOR DIE KERKLIKE TUG

Die Sinode van Reddersburg, 1862 het die Dordtse Kerkorde van 1618-19 vir die Kerkregering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aanvaar. Verskillende sinodes het dit ooreenkomstig artikel 86 gewysig om soos volg te lui:

Artikel 1

Om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou, is daarin nodig: die dienste, samekomste, toesig oor die leer, sakramente en seremonies en die kerklike tug, waaroor hierna agtereenvolgens gehandel word.

OOR DIE DIENSTE

Artikel 2

Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge en die van die diakens.

Artikel 3

Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie.

Artikel 4

Die wettige beroeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoir) geëksamineer is, bestaan uit:

ten eerste, die verkiesing na voorafgaande gebede, deur die kerkraad en die diakens volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of soos deur die kerkraad vasgestel is en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die ondersoek na die leer en lewe (peremptoir) van die beroepene deur die klassis (waar die beroeping ter goedkeuring voorgelê moet word) wat met advies van die deputate van die partikuliere sinode moet plaasvind;

ten derde, die approbasie en goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk wat daarin bestaan dat daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;

ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente in teenwoordigheid van die klassikale deputate, volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 5

Waar 'n bedienaar van die Woord van een kerk na 'n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:

ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gedien het en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk, as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige besware ingedien is nie;

ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van die losmaking.

ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 6

Geen bedienaar van die Woord mag onder 'n beskermheer of in gestigte of op 'n ander wyse diens van die Woord aanvaar nie, tensy hy daarvoor toestemming verkry het en toegelaat is volgens die voorgaande artikels; en hy is ook net soos die ander aan die Kerkorde onderworpe.

Artikel 7

As iemand tot die diens van die Woord in 'n bepaalde kerk beroep word, moet hy op die bepaalde plek gevestig wees, tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader.

Artikel 8

Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die partikuliere sinode dit goedvind, hom eksamineer en na gustige bevinding hom vir 'n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

Artikel 9

Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid en dit eers nadat hulle vir 'n sekere tyd goed beproef is.

Artikel 10

'n Bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, mag die kerk waaraan hy verbonde is, nie sonder bewilliging van die kerkraad met die diakens en toestemming van die klassis verlaat om op 'n ander plek 'n beroep op te volg nie; en geen ander kerk mag hom ontvang voordat hy van die kerk en klassis wat hy gedien het, wettige getuienis van sy losmaking getoon het nie.

Artikel 11

Die kerkraad wat die kerk verteenwoordig, is verplig om sy bedienaars van die Woord met behoorlike onderhoud te versorg en mag hulle nie die onderhoud weerhou of hulle uit hulle diens ontslaan sonder kennis en goedkeuring van die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode nie.

Artikel 12

Omdat 'n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot 'n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

Artikel 13

As 'n bedienaar van die Woord, volgens oordeel van die kerkraad met goedkeuring van die klassis en advies van die deputate van die partikuliere sinode onbekwaam word vir die uitoefening van sy diens weens ouderdom, siekte of andersins, behou hy die eer en die naam van 'n bedienaar van die Woord en moet die kerk wat hy gedien het, hom in sy nooddruf eervol versorg.

Artikel 14

'n Bedienaar van die Woord wat weens siekte of om enige ander rede sy diens 'n tyd lank moet onderbreek, wat nie sonder bewilliging van die kerkraad en advies van die klassis mag gebeur nie, bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk.

Artikel 15

Geen bedienaar van die Woord mag in 'n ander kerk die Woord of sakramente bedien sonder bewilliging van die kerkraad van daardie kerk nie en niemand wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, mag hier en daar gaan preek sonder die toestemming van die klassis of 'n partikuliere sinode nie.

Artikel 16

Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

Artikel 17

Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan 'n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.

Artikel 18

Die dienspligte van die professore aan die Teologiese Skool is om bedienaars van die Woord op te lei, die Heilige Skrif uit te lê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge te verdedig.

Artikel 19

Die kerke moet soveel nodig sorg dat daar studente in die Teologie is wat deur hulle ondersteun word.

Artikel 20

By die afsterwe van 'n bedienaar van die Woord moet die kerk wat hy gedien het of in die geval van 'n professor aan die Teologiese Skool, die kerkverband, sy weduwee en wese eervol in hulle nooddruf versorg.

Artikel 21

Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.

Artikel 22

Die ouderlinge word deur die gemeente onder die leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of 'n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 23

Die amp van die ouderlinge is, benewens dit wat hulle gemeenskaplik saam met die bedienaar van die Woord moet doen soos in artikel 16 neergelê, ook om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en die diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om die lidmate veral te vertroos en te onderrig en om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek.

Artikel 24

Wat gebruiklik is in die geval van die ouderlinge, moet ook onderhou word by die verkiesing, goedkeuring en bevestiging van die diakens.

Artikel 25

(Hierdie artikel is deur die Nasionale Sinode van 1997 verander, maar dit is nog nie deur die Algemene Sinode goedgekeur nie)

Die eintlike amp van die diakens is om die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset te versamel en dit met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uit te deel volgens die eis van die behoefte aan sowel die behoeftiges in die gemeente as aan ander; en verder om die wat in nood is te besoek en te vertroos en om goed toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. Die diakens moet in die kerkraad verslag doen van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente wanneer die kerkraad dit geskik ag. Die amp van die diakens is om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. Hulle opdrag is om almal in die gemeente te besoek en uit die Skrif toe te rus en aan te spoor tot daadwerklike liefde teenoor almal, in besonder teenoor die medegelowiges; verder sien hulle toe dat niemand om watter rede ook al van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie. Die liefdesgawes moet sorgvuldig ingesamel, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitgedeel word. Die diakens doen in die kerkraad verslag van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente soos wat die kerkraad dit geskik ag.

Artikel 26

Die diakens moet ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen, versoek om met hulle oorleg te pleeg sodat die gawes des te beter uitgedeel kan word onder die wat die meeste gebrek het.

Artikel 27

Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet 'n eweredige deel jaarliks aftree.

Artikel 28

Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.

OOR DIE KERKLIKE VERGADERINGS

Artikel 29

Kerklike vergaderings wat onderhou word, is: kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode.

Artikel 30

Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

Artikel 31

Wat op 'n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word, tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter 'n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op 'n meerdere vergadering beroep.

Artikel 32

Alle vergaderinge moet met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit word.

Artikel 33

Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderinge moet hulle geloofsbriewe en opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur; en elke afgevaardigde sal 'n keurstem hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk in die besonder aangaan.

Artikel 34

In alle vergaderinge moet by die praeses 'n skriba gevoeg word om noukeurig op te skrywe wat noodsaaklik opgeteken moet word.

Artikel 35

Op meerdere vergaderinge presideer 'n bedienaar van die Woord en die werk van die praeses is om voor te dra en te verduidelik wat behandel moet word, toe te sien dat elkeen op sy beurt spreek, om die wat redetwis en alte heftig spreek die swye op te lê en as hulle geen gehoor gee nie, die gepaste sensuur oor hulle uit te oefen. Sy amp hou op as die vergadering beëindig is.

Artikel 36

Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.

Artikel 37

In alle kerke moet 'n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

Artikel 38

Waar 'n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis. As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

Artikel 39

Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van 'n naburige kerkraad gestel word.

Artikel 40

Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref en die bedienaar van die Woord moet daaroor goed toesig hou en, indien nodig, daarby teenwoordig wees.

Artikel 41

Die klassis is 'n vergadering van naburige kerke wat elkeen 'n bedienaar van die Woord en 'n ouderling of, waar nie 'n bedienaar is nie, twee ouderlinge afvaardig. Die plek en die tyd van die volgende vergadering word deur die vorige vergadering bepaal [en dit mag nie meer as drie maande uitgestel word nie]*. Op hierdie vergadering moet die bedienaars van die Woord om die beurt presideer of anders die een wat deur die vergadering gekies word, maar dieselfde bedienaar mag nie op twee agtereenvolgende vergaderinge gekies word nie. Die praeses moet onder andere vra of die kerke kerkraadsvergaderings hou, of die kerklike tug uitgeoefen word, of die armes en die skole versorg word en of daar iets is waarin 'n kerk die oordeel en die hulp van die klassis vir sy regte bestuur nodig het. Op die laaste vergadering voor die partikuliere sinode moet die afgevaardigdes na hierdie sinode gekies word.

* Hierdie gedeelte is verander deur die Nasionale Sinode 1997, en moet nog goedgekeur word deur die Algemene Sinode

Artikel 42

Waar in 'n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, kan ook die wat nie volgens die bogenoemde artikel afgevaardig is nie, in die klassis teenwoordig wees met adviserende stem.

Artikel 43

Aan die einde van die klassikale en ander meerdere vergaderings moet sensuur uitgeoefen word oor die wat iets tugwaardigs in die vergadering gedoen of die vermaning van die mindere samekomste verontagsaam het.

Artikel 44

Die klassis moet minstens twee van die oudste, mees ervare en geskikte bedienaars van die Woord as visitatore benoem om in alle kerke van die klassis gereeld kerkvisitasie te hou, vas te stel of die ampsdraers hulle ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die Kerkorde in alles onderhou, die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder, sodat hulle diegene wat nalatig in een of ander bevind word, betyds broederlik kan vermaan en met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.

Artikel 45

Elke meerdere vergadering benoem 'n korresponderende kerkraad of deputate vir korrespondensie wat alle stukke en dokumente van die vergadering ontvang en bewaar en sy handelinge op die volgende vergadering besorg. Eweneens benoem elke meerdere vergadering 'n roepende kerkraad om die volgende vergadering op te roep en te ontvang op die vasgestelde tyd en plek of anders op die tyd en plek wat die roepende kerkraad in die geval van die partikuliere sinode, volgens advies van sy klassis en in die geval van die algemene sinode, volgens advies van sy partikuliere sinode, bepaal.

Artikel 46

Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander.

Artikel 47

Die partikuliere sinode is 'n vergadering van naburige klassisse waarheen elke klassis 'n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge afvaardig soos deur die partikuliere sinodes bepaal. Die partikuliere sinode vergader jaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee klassisse noodsaaklik geag word om 'n buitengewone vergadering byeen te roep.

Artikel 48

Onderskeie klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onder kerke in algemene sinodale verband, kan met naburige klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onderskeidelik, korrespondensie hou soos elkeen dit vir die algemene welsyn die beste ag.

Artikel 49

Elke meerdere vergadering benoem deputate om wat besluit is, uit te voer volgens 'n welomskrewe opdrag. Die partikuliere sinode benoem in elk geval deputate om aan klassisse hulp te bied in voorkomende moeilikhede en om teenwoordig te wees by die proponents-eksamen (peremptoir). Vir die onderskeie belange, moet soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem word. Hierdie deputate hou van al hulle handelinge notule om aan die meerdere vergadering verslag te doen. Slegs die betrokke meerdere vergadering kan hulle van hierdie opdrag onthef.

Artikel 50

Die nasionale sinode is 'n vergadering van al die partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) waarheen elke partikuliere sinode (of betrokke mindere vergadering) 'n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos die nasionale sinode bepaal, afvaardig. Die nasionale sinode vergader driejaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) noodsaaklik geag word om 'n buitengewone vergadering byeen te roep.

Artikel 51

Die algemene sinode is 'n vergadering van al die nasionale sinodes waarheen elke nasionale sinode 'n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos deur die algemene sinode bepaal, afvaardig. 'n Buitengewone of vervroegde algemene sinode word opgeroep wanneer ten minste twee nasionale sinodes so 'n algemene sinode noodsaaklik ag.

Artikel 52

Kerklike korrespondensie en samewerking of kontak (met kerke en kerklike instansies) buite die algemene sinodale verband, word in 'n algemene sinode gereël.

OOR DIE LEER, SAKRAMENTE EN ANDER SEREMONIES

Artikel 53

Die bedienaars van die Woord en ook die professore aan die Teologiese Skool moet die drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19 onderskryf en onderteken en die wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hulle diens geskors word deur die kerkraad of klassis en in die geval van professore, deur die nasionale sinode, totdat hulle hul daaroor volledig verantwoord het. As hulle hardnekkig weier, moet hulle heeltemal van hulle diens afgesit word.

Artikel 54

Ook die ouderlinge en die diakens en diegene wat deur 'n klassis as proponente toegelaat word, moet die genoemde Formuliere van Eenheid onderskryf en onderteken.

Artikel 55

Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan.

Artikel 56

Die verbond van God moet so spoedig moontlik aan die kinders van die Christene in die erediens met die Heilige Doop beseël word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 57

Die bedienaars van die Woord moet toesien dat die vader, moeder of voogde die doop vir hulle kinders aanvra.

Artikel 58

Die bedienaar van die Woord moet by die doop van klein kinders sowel as van volwasse persone die onderskeie formuliere gebruik wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 59

Volwassenes word deur die doop in die kerk van Christus ingelyf en as lidmate van die kerk opgeneem en daarom is hulle verplig om die Nagmaal van die Here te gebruik soos hulle by hulle doop belowe het om te doen.

Artikel 60

Die name van die gedooptes en van hulle ouers of voogde sowel as die datums van geboorte en doop moet opgeteken word.

Artikel 61

Tot die Heilige Nagmaal word alleen diegene toegelaat wat volgens gebruik van die plaaslike kerk belydenis van die Gereformeerde godsdiens gedoen het en 'n goeie getuienis van 'n vrome wandel besit. Sonder sodanige getuienis moet ook diegene wat uit ander kerke [van dieselfde kerkverband]* kom, nie toegelaat word nie.

* Hierdie gedeelte is verander deur die Nasionale Sinode 1997, en moet nog goedgekeur word deur die Algemene Sinode

Artikel 62

Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.

Artikel 63

Die nagmaal van die Here moet minstens elke drie maande gehou word.

Artikel 64

Die bediening van die nagmaal vind alleen in 'n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.

Artikel 65

Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.

Artikel 66

In tye van oorlog, pestilensie, algemene volksrampe en ander groot beproewings waarvan die druk oral in die kerke gevoel word, moet die klassis wat daarvoor deur die algemene sinode aangewys is, 'n dag van verootmoediging en gebed uitskrywe.

Artikel 67

Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.

Artikel 68

Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan.

Artikel 69

In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander skrifberyminge wat die sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerkrade gelaat.

Artikel 70

Kerkrade moet toesien dat die huwelik as heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

OOR DIE KERKLIKE TUG

Artikel 71

Die kerklike tug is geestelik, daarom is, afgesien van die burgerlike straf, die kerklike sensuur noodsaaklik om die eer van God te handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en die aanstoot uit die gemeente van Christus weg te neem.

Artikel 72

As iemand dan ten opsigte van die suiwerheid van die leer of vroomheid van die wandel sondig, moet, in sover dit heimlik is en geen openbare aanstoot gegee het nie, die reël onderhou word soos Christus duidelik in Mattheus 18 voorskrywe.

Artikel 73

Die heimlike sondes waaroor die sondaar berou het nadat hy deur een persoon afsonderlik of in teenwoordigheid van twee of drie getuies vermaan is, moet nie voor die kerkraad gebring word nie.

Artikel 74

As iemand, nadat hy deur twee of drie persone in liefde oor 'n heimlike sonde vermaan is, geen gehoor gee nie of 'n openbare sonde bedryf het, moet dit by die kerkraad aanhangig gemaak word.

Artikel 75

Die versoening oor alle sondes wat uit hulle aard of deur veragting van die kerklike vermaninge openbaar geword het, moet, as daar genoegsame tekens van boetvaardigheid is, in so 'n vorm en op so 'n wyse plaasvind soos elke kerkraad dit vir die stigting van die kerk nodig oordeel. Indien daar verskil is in die kerkraad oor die vraag of die versoening in bepaalde gevalle in die openbaar moet plaasvind, moet daaroor met advies van twee naburige kerkrade beslis word.

Artikel 76

Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat 'n openbare of anders 'n growwe sonde gedoen het, moet van die sakramente [nagmaal]* van die Here afgehou word.

* Hierdie gedeelte is verander deur die Nasionale Sinode 1997, en moet nog goedgekeur word deur die Algemene Sinode

Artikel 77

Diegene wat na afhouding van die sakramente [nagmaal]* en na herhaalde vermanings geen teken van boetvaardigheid laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk afgesny word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is. Die finale afsnyding moet voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente, waarin vermeld moet word wat die oortreding van die sondaar is, dat daar veel arbeid aan hom bestee is deur bestraffing, afhouding van die sakramente en menigvuldige vermaninge en dat hy hom nie bekeer het nie. In hierdie afkondiginge moet die gemeente opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom te bid. By die eerste afkondiging moet die naam van die sondaar, om hom enigsins te spaar, nie genoem word nie. By die tweede moet met advies van die klassis ook sy naam genoem word. By die derde moet aan die gemeente bekend gemaak word dat die sondaar, as hy hom nie bekeer nie, van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word, sodat sy afsnyding met die stilswyende bewilliging van die gemeente kan plaasvind as hy hardnekkig bly. Die kerkraad bepaal die tyd wat vir elke afsonderlike geval tussen die drie afkondiginge moet verloop.

* Hierdie gedeelte is verander deur die Nasionale Sinode 1997, en moet nog goedgekeur word deur die Algemene Sinode

Artikel 78

As iemand wat afgesny is hom weer deur boetvaardigheid met die gemeente wil versoen, moet dit - voor die viering van die Heilige Nagmaal, of anders wanneer dit geleë is - tevore aan die gemeente bekend gemaak word, sodat hy by die eersvolgende nagmaal, as niemand daarteen beswaar inbring nie, openlik met betuiging van sy bekering weer opgeneem kan word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 79

As ampsdraers 'n openbare growwe sonde bedryf wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is, moet hulle deur die kerkraad dadelik voorlopig in hul amp geskors word; ouderlinge en diakens moet dan deur die kerkraad en 'n naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade in hulle amp geskors of daarvan afgesit word. Bedienaars van die Woord moet deur die kerkraad en deur die naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade egter net geskors word, waarna die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle amp afgesit moet word.

Artikel 80

Onder die growwe sondes wat skorsing in of afsetting uit die diens verdien, is die volgende die vernaamste: valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, simonie, trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van 'n ander, meineed, egbreuk, hoerery, diefstal, geweldpleging, gewoontedronkenskap, vegtery, onregverdige winsbejag - kortom al die sondes en misdade wat die bedrywer by die wêreld en die kerk eerloos maak.

Artikel 81

Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.

Artikel 82

Aan diegene wat uit die gemeente vertrek, moet die kerkraad 'n attestasie (getuienis) van hulle belydenis en wandel saamgee wat deur twee van sy lede onderteken is.

Artikel 83

Aan armes wat om gegronde redes uit die gemeentes vertrek, gee die diakens soveel middele as wat hulle nodig oordeel en hulle pleeg oorleg oor die verdere versorging met die diakens van die gemeente waarheen die armes vertrek het.

Artikel 84

Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.

Artikel 85

In middelmatige dinge moet die buitelandse kerke by wie ander gebruike as by ons in swang is, nie veroordeel word nie.

Artikel 86

Hierdie artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk, is so opgestel en aangeneem met algemene stemme dat hulle, as die belang van die kerk dit anders vereis, verander, vermeerder of verminder kan word en behoort te word. Geen besondere kerk, klassis of sinode het egter die reg om dit te doen nie, maar hulle moet hul daarop toelê om dit te onderhou, totdat die algemene sinode anders verorden, nadat geleentheid vir advies deur die kerke gegee is deur middel van die onderskeie nasionale sinodes.